Herstel jy nog na die dol feesseisoen? Of miskien lê jou welverdiende wegbreek nog voor! Hoe dit ook al sy, 2025 se vakansiedae skep talle geleenthede om jou langnaweke nóg langer uit te rek deur jou verlofdae slim te beplan. Ons wys jou hoe met hierdie nuttige gids en ’n lekke rooster aan die einde van die blog!
Kleurvolle herfs
Die eerste vakansiedag van die jaar is om die draai en Paasnaweek is kort op sy hakke. Neem jou verlof en kies koers na die Bosveld met talle herfskleurige natuurtonele of geniet die laaste paar someraande aan die kus. Die matige klimaat maak dit ook die ideale tyd om die pragtige Karoo en al sy skatte te besoek.
Vrydag 21 Maart is Menseregtedag en ’n vakansiedag en jy kan ’n lekker ekstra lang langnaweek geniet as jy Donderdag 20 Maart verlof neem.
Paasnaweek word volgende gevier. Vrydag 18 April en Maandag 21 April is vakansiedae en dus is dié Paasnaweek vier dae lank sonder om enige verlof af te staan! Op ons handige gids sal jy egter sien dat ons voorstel jy neem Dinsdag, 22 April tot Vrydag 25 April verlof om die langnaweek verder uit te rek. Boonop val Vryheidsdag op daardie volgende Maandag en net so tjop-tjop kan jy ’n wegbreek van tot 11 dae geniet! Hierdie tyd van die jaar is ’n gewilde wegbreeknaweek vir talle Suid-Afrikaners wat graag tyd saam met geliefdes wil deurbring. Gaan kuier ’n bietjie langs ’n rivier in Gauteng of geniet ’n Mediterreense wegbreek aan die Weskus ─ die weer is ideaal vir ’n waterwegbreek!
Werkersdag val op Donderdag 1 Mei en as jy Vrydag die 2de Mei ’n verlofdag benut, kan jy ’n langnaweek van vier dae geniet!
Winterwegbreek
Daar is min dinge is so lekker soos ’n knetterende kaggelvuur terwyl winterreën buite val. 2025 se winter-langnaweke is perfek om Suid-Afrika se mooiste sneeubestemmings soos die Sederberge, Rhodes of Clarens te besoek.
Die winter is ook die beste tyd vir wildkyk so kies koers na die Wildtuin of gaan draai in die Bosveld vir ’n onvergeetlike wildkykvakansie. As jy eerder ’n unieke winter-avontuur wil aanpak, lees gerus ons blog oor buitelugaktiwiteite vir die winter.
Jeugdag val hierdie jaar op Maandag 16 Junie en jy het dus ’n drie dae lange naweek sonder om enige verlof af te staan, daarom stel ons voor om sommer een verlofdag voor of ná die naweek te neem om jou naweek te verdubbel!
Heerlike lente
Met blommekyk wat tydens hierdie seisoen op almal se lippe is, kan jy nie anders as om Namakwaland se blommeprag te besoek nie en om al langs die Weskus te ry om dié natuurverskynsel te aanskou. Indien julle lus is vir iets meer avontuurlustig is dit dan ook die ideale tyd om die Wildekus te besoek aangesien die reënseisoen dan tot ’n einde kom.
Erfenisdag (oftewel Braaidag) op Woensdag 24 September is die laaste vakansiedag vir ’n tydjie. Jy kan kies of jy jou twee verlofdae die Maandag en Dinsdag of die Donderdag en Vrydag wil neem om jou werksweek ekstra kort te maak.
Lees ook: Besoek die Bo-Kaap dié Erfenismaand!
Salige somer
Bespreek sommer nou al jou Desember-vakansieverblyf in Suid-Afrika se immergewilde kusdorpe soos Mosselbaai, Durban en Knysna om teleurstelling te vermy. Sodoende het jy heel jaar iets om na uit te sien!
Desember se eerste vakansiedag, Versoeningsdag, is Dinsdag 16 Desember en as jy dan nog nie met vakansie is nie kan jy ten minste ’n langnaweek van vier dae geniet as jy Maandag die 15de verlof neem. Dié vakansiedag val ook in die skoolvakansie.
Kersdag is op Donderdag 25 Desember en Vrydag 26 Desember is Welwillendheidsdag en ook ’n vakansiedag. Jy kan dan 22, 23 en 24 Desember verlof neem om nege dae lank vakansie te hou!
Laai hierdie rooster af om jou te help beplan!

Trek jou dagboek nader en begin daardie slim verlofdae inwerk, want met al hierdie lekke langnaweke kan ’n mens nie anders as om 2025 op ’n opwindende noot af te skop nie.
Hooffoto: Glen Harry Game Reserve
Lees ook:
14 fantastiese wegbreekplekke vir Vrouedag
Die sneeu val: Waar jy hierdie winter kan sneeukyk
Gratis avonture vir jou verjaarsdag in Kaapstad