Hermanus spog met ’n rits idilliese strande, heerlike restaurante en koffiewinkels, oulike kunsvlytwinkels en lekker doendinge. Boonop het LekkeSlaap ’n groot verskeidenheid en oorgenoeg lekker blyplekke te kies en te keur. In dié artikel vertel ons jou alles wat jy moet weet sodat jy solank jou volgende wegbreek na hierdie onvergeetlike dorp kan beplan. 

Hermanus het beslis nie ’n tekort aan pragtige strande nie. Kammabaai is ’n baie gewilde strand in Voëlklip vir gesinne en branderplankryers en daar is gewoonlik lewensredders aan diens wat dit ook ’n veilige opsie maak. Geniet gerus ’n lekker draairoomys by die roomys-stalletjie by die strand se ingang. 

Langbaai is ’n kleiner strand langs Kammabaai en ’n gewilde bestemming van waar besoekers graag die sonsondergang dophou. Dit is natuurlik ook ideaal vir ’n romantiese piekniek. As jy graag ’n lang ent op die strand wil stap, is Grottostrand perfek. Hierdie Blouvlagstrand is ook troetediervriendelik en spog met ’n Nederlandse restaurant, Dutchies, wat lekkernye soos bitterballen, seekos en skemerkelkies bedien. 

Foto: Unsplash

As die weer nie so lekker wil saamspeel nie, vaar die Hemel-en-Aarde-vallei in en proe wyn by asemrowende wynplase. 

Foto: Unsplash

Dié indrukwekkende wynplaas het iets om die hele gesin besig te hou. Benguela Cove bied interessante wynproe-opsies soos ’n heerlike kaas- en wynproe, sjokolade- en wynproe en ’n oester- en wynproe.

Foto’s: Dominique Fuchs

Terwyl die jongklomp op die putt-putt-baan met ’n seerowertema of in die waterpark baljaar, kan julle die kunsgalery besoek, met die reuse-skaakstel speel of ’n eko-bootrit teen ’n ekstra koste geniet. Hierdie bootrit van 60 minute gee jou die geleentheid om die fauna en flora in die Botriviermonding van nader te aanskou. Dit is ook rolstoelvriendelik en kinders en honde is ook welkom! 

Foto’s: Dominique Fuchs

Spookfontein is vir sy interessante argitektuur en heerlike wyn bekend. Hierdie boetiekwynplaas bestaan al sedert 1847 en kry sy naam vanaf ’n legende dat ’n mens ’n spook in die plaas se stroompie kan sien. Hiér is ook ’n bekende restaurant, Spookfontein Restaurant, waar besoekers aan ’n glasie wyn kan teug en aan smullekker disse soos geelstert-tuna, gnocchi met ’n wortel-puree, ’n tamatie-seekosbredie en bieffillet met aartappelskyfies kan smul.

Foto’s: Dominique Fuchs

Die skilderagtige Hermanus-kuspaadjie kronkel al langs die see en bied pragtige uitsigte oor die see en natuur. Hierdie paadjie strek oor 12 km en begin by die nuwe hawe en eindig by Grottostrand. Daar is orals langs die roete bankies om die uitsigte te bewonder — as jy gelukkig is, sal jy selfs ’n walvis in die diepsee gewaar!

Foto: Unsplash

Die Old Harbour Market en ’n besoek aan Hermanus gaan hand aan hand – geen wegbreek hierheen is volmaak sonder om ’n draai by dié mark te maak nie. Hiér kan jy rustig deur die verskillende stalletjies by die ou hawe wandel. Daar is alles van kleurvolle kledingstukke, interessante juweliersware tot Hermanus-aandenkings. Die markie is elke dag vanaf 09:00 tot 17:00 oop.

Foto: Old Harbour Market Hermanus

Hierdie lewendige markie vind elke Saterdag van 09:00 tot 14:00 by Hermanus se krieketklub plaas. Die markie is ’n lekkerbek se droom en verkoop vars produkte, tuisgemaakte maaltye, unieke geskenke en pragtige blomme. Bring sommer vir Wagter en die kinders saam, want hierdie markie is ideaal vir die hele gesin. Daar is selfs ’n area spesifiek vir die kinders met ‘n klimraam en speelplek.

Foto: Hermanus.co.za

Soos jy dalk van die naam kan aflei, gaan hierdie koffie beslis vir jou ’n skop gee. Dié koffiewinkel het koffiebone van reg oor die wêreld wat uiters geurig is – hulle slagspreuk is nie verniet “Dispensing your coffee prescription with precision” nie – en sit daagliks ’n verskeidenheid varsgebak voor wat jou mond sal laat water. Ons gunsteling-bestelling is ’n yskoffie en ’n cruffin (’n kombinasie van ’n muffin en croissant) met ’n karamelvulsel. 

Foto’s: Dominique Fuchs

Ons kan nie Hermanus besoek sonder om ’n eg Belgiese wafel by The Belgian te eet nie. Hiér kan jy kies tussen ’n soet of sout wafel met geure soos banoffee, brownies, Oreos, spekulaas, diepgebraaide hoender met esdoringstroop, Kaap-Maleise kerrie en vele meer.  Hulle bedien ook ’n rits eg Belgiese en interessante biere, dekadente melkskommels, wafel-burgers en fritkot — Belgiese slaptjips met ’n verskeidenheid toppings, soos brandrissie en kaas, varkvleis en koolslaai, geroosterde hoender met brie en meer. 

Foto’s: Dominique Fuchs

As jy lus vir vars seekos is, is De Vette Mossel die antwoord. Al die kos vir hierdie seekosfeesmaal word voor jou op ’n oop vuur voorberei en dan in ’n buffet-styl met sewe gange en dertien disse bedien. Die feesmaal skop met vars potbrood af, sluit mossels en snoek in en sluit met koeksisters en koffie af.

Foto’s: De Vette Mossel

Hierdie romantiese selfsorgwoonstel in die hartjie van Hermanus is ideaal vir ’n paartjie wat die dorp wil verken. Dit bied slaapplek aan twee en het ’n en suite-badkamer, ’n houtvuurwarmbad en ’n privaat tuin met ’n buitestort. Ná dag vol verken, kan julle lekker op die stoep kom agteroorsit en ’n tjoppie oor die kole gooi. Hierdie woonstelblok spog boonop met ’n uitsig oor die see en is net ’n hanetreetjie vanaf die bekende Ficks-getypoel. 

Foto: LekkeSlaap

Le Blues is naby die strand, restaurante en besienswaardighede geleë en is ideaal vir ’n groep familie of vriende. Die huis bied slaapplek aan 10 en beskik oor vier slaapkamers waarvan een in ’n aparte woonstel is – perfek vir tieners! Julle kan heerlik in die swembad afkoel, om die braaivuur kuier en tafeltennis speel. Die huis spog ook met DStv, WiFi en ’n omsetter vir wanneer beurtkrag weer inskop. Die kersie op die koek is dat jou troeteldiere ook welkom is! 

Foto: LekkeSlaap

***

Hermanus het iets vir almal – van pragtige strande en asemrowende natuurskoon, tot koffiewinkels en wynplase. Bespreek jou volgende wegbreek na hierdie onvergeetlike dorp en kies een van ons lekke blyplekke om jou vakansie ekstra spesiaal te maak.

Hooffoto: Unsplash

Hermanus: LekkeSlaap se top-wegbreekplekke vir die walvisseisoen

Wegbreke vir 2 op die Walvisroete